Op Donderdag, 6 Februarie 2025, het die jaarlikse Wynoesherdenkingsgeleentheid vyf merkwaardige individue in die Suid-Afrikaanse wynbedryf vereer vir hulle inspirerende prestasies en hoogstaande standaarde. Hierdie gesogte samekoms het ‘n geliefde tradisie binne die Suid-Afrikaanse wyngemeenskap geword. Dit moedig uitnemendheid aan en herdenk die geskiedkundige geboortedatum van Suid-Afrikaanse wyn – 366 jaar gelede in 1659 toe wyn vir die eerste keer van Kaapse druiwe gepars is.
“Dit is vir ons ‘n groot voorreg om weer eens die gasheer vir die Wynoesherdenkings-geleentheid te wees hier op Groot Constantia, die oudste wynproduserende landgoed in Suid-Afrika. Terwyl ons die geboorte van die Suid-Afrikaanse wynbedryf vier en hierdie jaar se oes seën, vereer ons ook individue en organisasies wat buitengewone bydraes tot die bedryf gemaak het. Die individue wat ons hierdie jaar vereer, weerspieël die sterkte van die SA wynbedryf en is ‘n toonbeeld van die diepte en aanpasbaarheid van Suid-Afrikaanse wyn in ‘n hoogs kompeterende globale mark,” sê Clifford van der Venter, voorsitter van die Groot Constantia Trust. “Die geleentheid verteenwoordig nie net die samevloei van harde werk en toewyding nie, maar is ook ‘n viering van die dinamiese gemeenskap wat ons wynerfenis definieer.”
Die 2025-ontvangers staan skouer aan skouer met merkwaardige leiers wat in die verlede vereer is, en sluit in: Johann Krige, wat die 1659 Toekenning vir Visioenêre Leierskap ontvang het; Praisy Dlamini in die kategorie vir die Bevordering van Inklusiwiteit; Bennie Howard in die kategorie vir Wynbevordering; en Jan Booysen in die kategorie vir Wingerd- en Wynbou. Die intree-ontvanger in die nuwe Wyn-Agriwerker-kategorie was Marcus Lewis.

Johann Krige: 1659 Toekenning vir Visioenêre Leierskap
Johann Krige het die hoogaangeskrewe 1659 Toekenning vir Visioenêre Leierskap ontvang ter erkenning van sy aansienlike bydraes tot die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Bekend vir sy proaktiewe leierskap en transformerende idees, het Krige deurlopend vooruitgang gedryf, en nie net bloot daaraan deelgeneem nie.
Na ‘n aanvanklike loopbaan in die regte, slaan Krige oor na wynmaak, met ‘n MBA van die Universiteit van Stellenbosch voordat hy in 1990 by die familiewynplaas, Kanonkop Wynlandgoed, aansluit. Sy strategiese fokus op rooi variëteite, insluitende Cabernet Sauvignon, Pinotage, Merlot en Cabernet Franc, vestig Kanonkop as ‘n toonaangewer in die globale arena. Noemenswaardige prestasies sluit in die Robert Mondavi Trofee in Londen by vier geleenthede, en toekenning van ‘n historiese 100-punttelling van internasionale wynkritikus Tim Atkin vir die 2015 Kanonkop Paul Sauer. Dit was die heel eerste volpuntetelling wat in die Nuwe Wêreld toegeken is.
Voorts vestig Krige se pionierswerk Pinotage as ‘n uitgelese wyn op die globale verhoog. Buiten sy wynmaakkundigheid, dien hy ook op die rade van, onder andere, Stellenbosch Wynroetes, Wines of South Africa, en SAWIS.
Met sy persoonlike pioniersfilosofie van ‘terug na die toekoms’, het Krige se rol as katalisator vir ingrypende verandering die Suid-Afrikaanse wynbedryf en sy status in die internasionale mark op betekenisvolle wyse gevorm, wat van hom ‘n prysenswaardige ontvanger van hierdie toekenning maak.
Praisy Dlamini: Bevordering van Inklusiwiteit
Praisy Dlamini, wat vir haar leierskap in en toewyding aan die bevordering van inklusiwiteit vereer is, het Adama Wyne getransformeer tot ‘n baken van diversiteit. Haar reis van KwaZulu-Natal tot die eerste vroulike Protégé van die Kaapse Wynmakersgulde beklemtoon haar toewyding daaraan om enige versperrings van geslag, ras en sosio-ekonomiese status te verwyder.
Onder Dlamini se leierskap het Adama Wyne ontwikkel tot ‘n simbool van die bemagtiging van jong swart vroue in die wynbedryf. Deur die toekenning van 2% van sy wins aan ‘n beursskema, verleen Adama Wyne noodsaaklike finansiële steun aan opkomende professionele persone. Hierdie inisiatief ontwikkel nie slegs talent nie, maar verseker dat toekomstige generasies betekenisvolle loopbane in wynmaak en ander sektore kan uitkap.
Haar prestasies strek ook verder as die sakewêreld. Met haar aan die stuur het Adama Wyne talle eerbewyse ontvang, wat haar reputasie as ‘n leier op die gebied van die bevordering van diversiteit, nog verder vestig.
Dlamini is ‘n sprekende voorbeeld van transformerende leierskap met haar pionierswerk in inklusiwiteit in die Kaapse wynbedryf, wat haar ‘n waardige ontvanger van hierdie eerbewys maak.
Bennie Howard: Wynbevordering
Bennie Howard se toewyding oor dekades aan die Suid-Afrikaanse wynbedryf besorg aan hom die eerbetoon vir Wynbevordering. As invloedryke wynbeoordelaar, Kaapse Wynmeester en onder-voorsitter van die SA Nasionale Wynskouvereniging het Howard die bedryf se globale reputasie wesentlik bevorder deur onderrig, kompetisies, en kulturele promosies.
Howard se loopbaan word gekenmerk deur talle prestasies. Hy is reeds sedert 2004 bemarkingsbestuurder van Meerendal Landgoed in Durbanville. Hy was ook instrumenteel in die goedkeuring van die Wyn van Oorsprong Kaapstad deur die afbakeningskomitee en die Wyn- en Spiritusraad in 2017.
In 2020 was Howard die eerste ontvanger van die David Hughes Toekenning, wat sy uitmuntende bydrae tot wynonderrig beklemtoon. Sy mentorskap van jong wynmakers en toewyding aan die bevordering van die kulturele erfenis van Suid-Afrikaanse wyn het ‘n onuitwisbare merk op die bedryf gelaat, wat sy nalatenskap as kampioen van wynbevordering nog meer verstewig.
Howard se rol as baanbreker het die Suid-Afrikaanse wynbedryf op betekenisvolle wyse gevorm, wat van hom ‘n prysenswaardige ontvanger van hierdie eerbewys maak.
Jan Booysen: Wingerd- en Wynbou
Jan Booysen se innoverende benadering het ‘n merkwaardige invloed op die Suid-Afrikaanse wynbedryf gehad. Hy slyp sy kundigheid deur rolle by ARC Infruitec-Nietvoorbij en wend dit knap aan vir die bevordering van navorsing, tegnologie, en opleiding in wingerdbou.
Booysen se bydraes brei ook uit na beleidsvorming en praktyke tot voordeel van beide die plaaslike en internasionale wynbedrywe. As Uitvoerende Direkteur van WINETECH staan hy aan die voorpunt van baanbrekersnavorsing wat wingerdproduktiwiteit en volhoubaarheid verbeter. Sy leierskap was ook sentraal tot die daarstelling van ontwikkelingsprogramme wat die volgende generasie van wingerdboukundiges met die jongste kennis en vaardighede toerus.
Internasionaal het Booysen as Tegniese Adviseur in die Internasionale Organisasie van Wingerd en Wyn (alom bekend as OIV) gedien, waar hy bygedra het tot globale beleid oor wynproduksie. Sy eerbewyse, insluitende die Veritas Ererol en die Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum-toekennings, beklemtoon sy diepgaande impak op die wynsektor.
Booysen se pioniersgees en vermoë om belanghebbendes te verenig het gelei tot transformerende vooruitgang in die Suid-Afrikaanse wynbedryf, wat van hom ‘n hoogs verdienstelike ontvanger van hierdie eerbewys maak.
Marcus Lewis: Wyn-Agriwerker
Marcus Lewis is deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou as die eerste Wyn-Agriwerker gekies as deel van sy jaarlikse kompetisie vir die Wes-Kaap Prestige Agri-toekennings.
Hierdie inisiatief vereer die onskatbare bydraes van wingerd-, kelder- en plaaswerkers wat onmisbaar is vir die sukses van Suid-Afrika se wynbedryf.
Huidiglik keldervoorman by Kanonkop Wynlandgoed, is Lewis ‘n toonbeeld van uitnemendheid in die noodsaaklike rol wat agriwerkers speel. Sy loopbaan strek oor meer as ‘n dekade van prestasies en tegniese kundigheid wat die volgende hoogtepunte insluit: gekies vir die Burgundy Frankryk Kelderwerkeruitruilprogram in 2015; ontvang die Wes-Kaap Prestige Agri-toekenning in die Stellenbosch-streek in 2018, 2019 en 2024; sy deurlopende bydraes tot kelderbedryf, oesbestuur en personeelopleiding.
Lewis se passie inspireer die Suid-Afrikaanse wynbedryfgemeenskap, en hy is ‘n gepaste ontvanger van hierdie eerbewys.

Vennote vir Sukses om 366 Jaar van Suid-Afrikaanse Wyn te Vier
Die Wynoesherdenkingsgeleentheid 2025 is moontlik gemaak deur die ruim ondersteuning van Groot Constantia, Standard Bank, Air France-KLM, Wes-Kaapse Departement van Landbou, South Africa Wine, Wesgro, Die Burger, Kaapstad Toerisme, MCC Labels en Seabourne Logistics.
Met klem op die ekonomiese belang van die wynbedryf, sê Brendan Jacobs, Standard Bank se Hoof: Landbousake: “Soos ons terugkyk op 10 jaar van ons betrokkenheid by die Wynoesherdenkingsgeleentheid, bly Standard Bank onwrikbaar in ons ondersteuning van die landbousakesektor. Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is nie slegs ‘n hoeksteen van ons land se landbouerfenis nie, maar lewer ook ‘n kernbydrae tot ons ekonomie. By Standard Bank is ons toegewyd aan die ontwikkeling van sakeondernemings deur relevante en doelgerigte oplossings. Deur ons ondersteuning van geleenthede soos die Wynoesherdenkingsgeleentheid belê ons in ‘n toekoms waar plaaslike boere en produsente volhoubaar kan floreer op ‘n globale verhoog. Ons toewyding aan landbousake en die Suid-Afrikaanse wynbedryf weerspieël ons vertroue in sy vermoë om volhoubare ekonomiese groei te dryf en om innovering in die bedryf te kweek.”
Die Wes-Kaapse Minister van Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Dr Ivan Meyer, is verheug oor hulle nou samewerkende verhouding met die Suid-Afrikaanse wynbedryf en Wynoesherdenkingsgeleentheid. Hierdie jaar se geleentheid was veral betekenisvol vanweë die insluiting van die Wyn-Agriwerker-kategorie.
“Die SA wynbedryf is lewendig, volhoubaar, innoverend, lewenskragtig, en een van die hoekstene van die Wes-Kaapse, en Suid-Afrikaanse, landbousektor,” sê Meyer. “In 2023 het die Wes-Kaapse Regering ‘n doelgerigte inisiatief van stapel gestuur met die aanvaarding van die Groei vir Werk (G4W)-strategie. Hierdie strategiese raamwerk is ons onwrikbare toewyding om die provinsiale ekonomie ‘n groot opswaai te gee, deur die skep van ‘n werksryke, inklusiewe, volhoubare, diverse en veerkragtige omgewing teen 2035. Saam werk ons om die ekonomie te laat groei, werksgeleenthede te skep, en ‘n veilige Wes-Kaap te verseker terwyl ons die welstand en waardigheid van ons burgers bevorder. Oor die laaste 366 jaar het die wynbedryf talle uitdagings te bowe gekom en, deur visioenêre leierskap, soos hierdie jaarlikse geleentheid, het dit in ‘n ikoniese sektor met sterk bande met toerisme ontwikkel.”
“Hierdie geleentheid vier nie net uitnemendheid in die wynmaakbedryf nie, maar ook die innovasie, veerkragtigheid en passie van produsente in die streek,” sê Wrenelle Stander, HUB by Wesgro. “Suid-Afrika se wyne is ‘n wêreldwye skat, en ons vyf wynstreke speel ‘n integrale rol wat bydra tot die streek se ekonomie,” sê Stander.
Tydens Februarie, terwyl ons ‘n glasie op uitnemendheid klink, laat ons die ryke erfenis en prestasie van Suid-Afrikaanse wyn vier deur ons vreugdevolle wense met die wêreld te deel. Volg @sawineharvest op sosiale media en gebruik die hutsmerk #HappyBirthdaySAWine om deel te word van die feestelikheid. Ontdek meer van hierdie merkwaardige geleentheid en die 2025 geëerdes by www.sawineharvest.co.za.

6 Februarie, 2025 – Groot Constantia, Kaapstad – Vyf merkwaardige individue in die Suid-Afrikaanse wynbedryf en borge vir die jaarlikse Wynoesherdenkingsgeleentheid staan saam om die 366ste verjaardag van die Suid-Afrikaanse Wynbedryf te vier. Agter (L-R): Clifford van der Venter (Groot Constantia Trust), Eulalia Fernandes (Air France-KLM), Willem Jordaan (Die Burger), Claude le Roux (Seabourne Logistics), Dr Ilse Trautmann (Departement van Landbou), Reghardt Strauss (Standard Bank), Wrenelle Stander (Wesgro), Rico Basson (South Africa Wine), Tracy Mkhize (Cape Town Tourism), Flip Snyman (MCC Labels). Voor (L-R): Bennie Howard (Wynbevordering), Praisy Dlamini (Bevordering van Inklusiwiteit), Johann Krige (1659 Toekenning vir Visioenêre Leierskap), Jan Booysen (Wingerd- en Wynbou), Marcus Lewis (Wyn-Agriwerker).